Basta met die plooie!

Die soeke na ewige jeug het die kosmetiese wêreld tot by ʼn spuitnaald vol bakterie gebring. Dit beloof om lagplooie, kraaipote en fronsplooie te verbloem én hok te slaan. Die spuitnaald stryk die kreukels netjies uit en word selfs gebruik om migraines te behandel. Helené Bam het verdere ondersoek gaan instel oor die beloftes van dié parmantige spuitnaald.

Meeste mense sal nie omgee om meer uitgerus, energiek en gelukkig te lyk en te voel nie. Daar is altans gedurig nuwe kosmetiese grille en giere wat slaafs nagevolg word in die hoop dat die biologiese klok tog ʼn klein bietjie terug gedraai kan word.

Daar is self die wat hul lywe deur pynlike en gevaarlike prosedures sleep om beter, fermer en jonger te lyk. Dit blyk dat daar tog ʼn ‘wonder’ produk op die mark is wat relatief pynloos gebruik kan word en aan die belofte van jeugdige vernuwing voldoen.

Botulinum Toksiene, of eerder Botox® soos dit alombekend is, word vervaardig van ʼn bakterie met die naam Clostridium Botulinum Tipe A. Dit word al vir meer as 15 jaar suksesvol gebruik om pasiënte te behandel wat sukkel met spastiese spier kondisies en migraines.

Die gebruik van Clostridium Botulinum Tipe A vir die behandeling van migraines is tans besig om deur die derde fase van ʼn kliniese studie te gaan en die resultate tot dusver lyk baie belowend. Die bakterie word in die spiere van die nek en slape ingespuit om verslossing te bring van spierspasmas wat deel vorm van die oorsaak van migraines.

Die kosmetiese voordele van die bakterie word reg oor die wêreld gebruik aangesien dit die kleiner spiere in die gesig ook laat ontspan en die voorkoms van plooie versag.

Botox® word meestal in die boonste gedeelte van die gesig gebruik om die dinamiese plooie te behandel. Dinamiese plooie is die plooie wat sigbaar is wanneer ons frons, lag of ons gesig op ʼn ander dinamiese maniere gebruik. Soos ons ouer word verloor ons vel kollageen en word die vel minder elasties. Baie van die dinamiese frons-lyne raak mettertyd statiese plooie. Botox® word ingespuit om dié plooie se voorkoms te verbeter.

Die gebruik van Botox® saam met ‘fillers’ vir ʼn volkome gesig-ontrimpeling staan bekend as ʼn liquid-facelift en ook as ʼn Clostridium Botulinum facial. Die prosedure sny glo jare weg van jou ouderdom sonder dat jy onder die mes hoef te gaan. Die laat jou gesig voller en fermer lyk met ʼn jeugdige glans.

Volgens Michelle Botha, ʼn derde jaar student by die Isa Carstens Akademie in Stellenbosch, is daar alternatiewe produkte en behandelings op die mark wat kan gebruik word in die plek van Botox®. Aromaterapie en olie-masserings kan ook ʼn jeugdige voorkoms bevorder en plooie versag maar dit vat altans veel langer om resultate te sien.

Een van die alternatiewe produkte wat gebruik kan word vir diegene wat effe sku is vir ʼn naald tussen die wenkbroue is Environ se Ionzyme Focus Frown Serum. Die produk verslap ook die spiere tussen die wenkbroue en kan voorts aangewend word vir lagplooie en kraaipootjies. Die Focus Frown Serum versag die voorkoms van plooie en kan met ’n spesiale rollertjie aangewend word om te verseker dat dit die diepste lae van die vel kan deurdring.

Dit is uiters belangrik dat daar seker gemaak word dat die persoon wie jou behandel en die Botox® inspuit na wese gekwalifiseer is. Omdat Botox® die spiere verslap kan dit uitermate nadelige gevolge inhou as dit nie reg gebruik word nie. Botox® kan slegs deur medies opgeleide persone en dermatoloë aan pasiënte toegedien word.

ʼn Oordosis Botox® kan die teenoorgestelde impak hê as waarvoor daar gewens word. Die spiere bo die oogbank kan tot so ʼn mate verslap word dat dit nie sterk genoeg is om die gewig van die vel te ondersteun nie. Dus, sak die vel oor die oogbank en kan jy ouer lyk as van te vore.

Die verkeerde spiere kan per abuis ingespuit word wat ook tot nadelige gevolge kan lei. Wanneer Botox® in die nek en kaak area verkeerd ingespuit word kan dit in sekere uitsonderlike gevalle asemhalings probleme veroorsaak en die funksie van die slukderm verswak.

 Aangesien Botox® meestal vir estetiese redes gebruik word sal dit voordelig wees om na ʼn dokter te gaan wie jou voorkoms met dieselfde deernis en sorg sal behandel as wat ʼn kunstenaar een van sy meesterstukke sou versorg. Die spesialis wat die Botox® inspuit moet dus ʼn intieme verstandhouding hê van die anatomie van die menslike gesig.

Dr Louw, ʼn Botox® administrateur by die Panorama Dermatologie Sentrum beveel nie voorkomende Botox® behandeling aan vir jonger vroue nie. Vroue jonger as 30 word wel aangeraai om in ʼn goeie oogroom te belê, daagliks sonroom te gebruik en gesonde eetgewoontes aan te kweek. Botox® behandeling is natuurlik nie net alleenlik beskikbaar vir vroue nie.

Een eenheid Botox® kos tans R70.00 maar pryse kan wissel van plek tot plek. Vir die verligting van diep fronsplooie in die wenkbrou area kan 20 tot 28 eenhede gebruik word, afhangende van die spier massa. Vir daardie verwenste kraaipotjies word 14 tot 18 eenhede gebruik vir optimale impak.

Botox® kan ook gebruik word vir die behandeling van plooie om die mond en op die brug van die neus. Daar is ook vroue wat Botox® om die kakebeen aanwend om die lyn van die kaak te versag en meer vroulik te laat lyk.

Botox® behandeling is vir 3 tot 6 maande effektief. Die tydperk wat die impak van Botox® sigbaar is hang ook af van die hoeveelheid eenhede wat gebruik word en hoe vinnig ʼn persoon se lyf die Botox® afbreek en verwerk. Die impak van Botox® word vandaar baie vinniger verwerk deur mense wat ʼn sogenaamde ‘ooraktiewe wenkbrou’ het en dus konstant deur die dag frons of hul wenkbroue oplig.

Die langdurige gebruik van Botox® kan die verouderings proses aansienlik vertraag aangesien dit die opbou van kollageen onder die vel in die area van die plooi bevorder en ondersteun.

ʼn Botox® behandeling kan binne 30 minute afgelê word. Daar is dus tyd om vir ʼn Botox® behandeling te gaan én ʼn vinnige cappuccino te geniet in jou middagete-uur voor jy weer op kantoor moet wees. Jy kan ʼn meer jeugdige voorkoms binne 3 tot 10 dae verwag na die eerste behandeling.

Vroue wat swanger is, word sterk afgeraai teen die gebruik van Botox® aangesien Botox® potensieel nadelig kan wees vir ʼn fetus.

Dokter Schoonbee, wie ʼn mediese praktyk in Stellenbosch het, is van mening dat wanneer mens reg eet en ʼn gesonde leefstyl handhaaf sal Botox® behandeling nie eers nodig wees nie, “dit is belangrik om gesond in jonk van binne te wees”.

Skoonheid vergaan maar deug bly staan.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s