Fortuinsoekers in Devonvallei

Terwyl meeste mense nie kan onthou wat hulle als gister in die asblik gegooi het nie is daar ʼn groep mense wat huiwerig wag om die rommel van Stellenbosch se huishoudings te ontvang. Rommel is hul brood en botter.

Die son het pas sy verskyning gemaak bo Stellenbosch se berge en Devonvallei is reeds ʼn miernes van bedrywighede. ʼn Swerm seemeeue hang soos aasvoëls bo die Devonvallei stortingsterrein opsoek na iets op te eet. ʼn Walglike stank vul die lug en kruip diep binne jou neusholtes in.

Die sowat 40 mense wat elke dag op die stortingterrein werk, of die tip soos dit deur hulle genoem word, staan soggens al van 6uur af voor die stortingsterrein se hek om seker te maak hulle kan inkom vir die dag. Nuwe munisipale regulasies stipuleer dat nie meer as 40 persone op ʼn slag op die terrein mag werk nie.

Munisipale trokke kom voortdurend deur die dag by die hek ingery om huishoudelike vullis op die stortingsterrein af te laai. Bo-op die berg van vullis maak die trok sy pens oop en braak. ʼn Mengelmoes van verotte materiaal val op die grond neer.

Kaal hande krap tussen die afval opsoek na waardevolle items wat veruil kan word vir ʼn paar sent. Daar word nie veel gepraat terwyl daar gewerk word nie. Daar word net stip gefokus op die rommel wat moontlik verkoop kan word. Sommiges sak kniediep in die nat vullis in. Elke persoon het sy af haar lappie grond waar daar gewerk word. Die skatte wat daar gevind behoort slegs aan daardie persoon.

Die inruil van koeldrankblikkies, plastiek bottels en stukkies metaal voorsien talle gesinne in die omgewing van ʼn informele inkomste. Die herwinbare materiaal word aan ʼn middelman op die perseel verkoop waarna dit weer aan groter maatskappye, soos Plastics SA en Metal SA, verkoop word wat dié herwinbare materiaal gebruik om nuwe produkte te vervaardig.

Hulette Solomons werk al die afgelope 15 jaar op die stortingsterrein. Hy loop gebukkend op die terrein rond, sy oë is vasgepen op die grond opsoek na iets wat of verkoop kan word of in sy eie huis gebruik kan word. Hy krap rond tussen babadoeke, vrot kos en bourommel. “Vandag is ek opsoek na ligte metaal soos blikkies maar ek sal enige iets vat wat ek kan kry.”

ʼn Kilogram blikkies kan vir R1.50 verkoop word. Meestal word ʼn wye verskeidenheid materiale deur een persoon versamel. Op ʼn gewone dag verdien die rommeluitsoekers sowat R20.

Hulette bly agter die stortingsterrein op ʼn boer se plaas saam met sowat 20 ander mense wie ook op die stortingsterrein werk. “Die boer het gesê ons kan hier bly solank ons die plek skoon hou en solank ons genoeg plek maak vir die trekker om deur te beweeg.”

Sy huis is uitsluitlik van materiaal gemaak wat hy op die stortingsterrein gekry het. Dit lyk soos ʼn kleurryke laslappiekombers. Houtplanke, sinkplaat en glasvesel van verskillende kleure is saamgeheg om die dop van die struktuur te vorm. ʼn Groot Suid-Afrikaanse landsvlag wapper in die wind bo die voordeur.

Hulette se huis strek sowat 50m langs die wingerd en hy verhuur kamers aan mense wat saam met hom op die stortingsterrein werk.

Hy maak met trots sy huis se deur oop en stap die kombuis binne. Hy verduidelik geesdriftig dat hy binnekort die kombuis in twee gaan verdeel sodat daar ʼn ander man en vrou daar kan kom woon. “Ek ken nie die man of die vrou nie maar ek weet net hulle het ʼn plek nodig om te bly. Ek moet hulle help. Ek gaan hulle nie eers vra om huur te betaal nie.”

Die kombuis ruik na roet en mieliemeel. “Ons het alles wat ons nodig het, ons het net nie elektrisiteit nie so ons maak maar kos oor die kole.”

Hulette se slaapkamer is netjies en voor die venster hang daar ʼn kant gordyn met valletjies. “Alles wat jy in dié huis sien kom van die tip af. Een ding wat ek geleer het van op die tip werk is dat alles wat jy in jou huis gebruik geld werd is. Alles.”

Sy familie bedryf ʼn taxi onderneming in Somerset-Wes. Hy het besluit hy wil nie deel wees van die familie besigheid nie en wou eerder sy eie potjie krap op die tip. “My ouers was nie baie gelukkig toe ek gesê het ek wil hier kom bly en werk nie, maar ek hou daarvan. Ek is onafhanklik. Ek vra vir niemand niks nie. As ek vanaand honger gaan slaap dan gaan slaap ek honger.”

Sherine Van Wyk stap nader. Sy is sewe maande swanger en gaan steeds elke dag na die tip toe om te gaan werk. Sy het reeds twee dogters wat by hul ouma in Delft woon.

“My droom vir my kinders is om beter in die lewe te doen as ek. Ek sal graag wil hê my een dogter moet ʼn dokter word en my ander dogter moet ʼn onderwyser word. Ek sal hulle ondersteun daarin. Dit is hoekom ek hier werk, sodat ek tenminste ʼn klein bietjie kan bydra tot hulle drome.”

“Dit is vir my lekker om op die tip te werk want jy weet nooit wat jy die volgende dag gaan kry nie. Miskien kry jy ʼn gelukkie of iets baie kosbaar. Die kosbaarste ding wat ek al op die tip gekry het toe ek gaan skarrel het, was ʼn fotoraam.

Sherine lag,“dit voel sommige dae asof jy op ʼn skattejag is.”

Die werkers op die tip het ook al op gru fondse afgekom. Volgens Sherine kry hulle tenminste eenkeer ʼn maand ʼn baba in een van die swartsakke wat op die tip gestort word.

“My hart was so seer toe ek dit die eerste keer sien. Meeste babatjies wat ons kry is potblou en hulle het nog hul naelstringetjies aan. Ek dink dan aan my eie kinders en hoe lief ek hulle het. As daardie babatjies nog sou gelewe het sou ek hulle na my huis toe bring en hulle styf teen bors vashou. Ek sou lief wees vir hulle.”

By die hek draai daar ʼn wit vragmotor in. Soos wat die vragmotor nader aan die tip kom kyk mense op en begin nader skuif. Dié vragmotor bring hul daaglikse kos. Maar, dit is nie kospakkies of botteltjies water wat afgelaai word nie. Dit is ou kos van huishoudings, restaurante, winkels en organiese materiaal wat alles saam in die trok gegooi word en dan afgelaai word op die stortingsterrein.

Die trok lig sy bak en die stikkende papery reën neer. Almal drom saam en daar word gegryp na alles en enige iets wat dalk ʼn leë maag kan vol maak. Vrot lemoene en gemufde brood word geëet asof dit koningskos is. Pakkies vleis wat al dae terug verval het en klaar oopgemaakte blikkies vis en boontjies word in swartsakke geplaas om later huis toe te neem vir die hongermonde wat wag.

Lionel Plaatjieswerk werk ook op die tip. Hy lig sy hande op en waai dit in die lug. “Die Here het vir jou twee hande gegee om te skarrel. Niemand gaan jou help nie. As jy wil eet moet jy skarrel.”

Die wit trok vertrek en daar word verder geskarrel op die tip.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s